Drie Europese Gebeure in die Vorming van die Afrikanervolk se identiteit – Deur Dr Mike Du Toit

Deur Dr Mike du Toit

Inleiding

Daar word baie maal oor die Afrikanervolk se Europese voorgeskiedenis geskryf – soms korrek en soms nie korrek nie. Hierdie artikel is gebaseer op historiese bronne asook die argeologie, antropologie en vergelykende filologie en belig drie belangrike Europese gebeure wat die Afrikanervolk se identiteit gevorm het.

Eerste gebeure: Die rol van die Proto-Indo-Europeërs

Die Proto-Nordiese Proto-Indo-Europeërs het die eerste beslissende rol in die vorming van die Afrikanervolk se identiteit gespeel.

Alle Europese Kaukasoiëde (met die uitsondering van die Baske) is die produk van Proto-Nordiese Proto-Indo-Europeërs wat vanaf die Oekraïne en Suid-Rusland, vanaf ongeveer 4400 v.C., oor Europa gespoel en met Proto-Mediterreense Oud-Europeërs saamgesmelt het.

Vanweë die samesmelting van die Proto-Nordiese Proto-Indo-Europeërs en die Proto-Mediterreense Oud-Europeërs het die volgende belangrike Kaukasoïede subrasse onder andere tot stand gekom:
– Die Nordiese subras in Noordwes- en Noord-Europa: Die mense is lank (gemiddeld 1,73 tot 1,8 meter) met ‘n ligte vel, blonde tot rooierige hare en blou tot grys oë.
– Die Alpynse subras in Sentraal-Europa: Die mense is van gemiddelde lengte (1,64 meter) met ‘n effens donkerder velkleur as die Nordiese subras en lig tot donkerbruin hare en ligbruin oë.
– Ten spyte van die Proto-Nordiese Proto-Indo-Europese indringing het die Mediterreense subras in Suid-Europa steeds die dominante subras gebly: Die mense is kort (gemiddeld 1,60 meter) met ‘n donker velkleur en donkerbruin hare en oë.

Uit die samesmelting van die Proto-Nordiese Proto-Indo-Europeërs en die Proto-Mediterreense Oud-Europeërs het ook ‘n groot aantal Europese Indo-Europese volksgroepe tot stand gekom wat almal basies dieselfde taal, kultuur en godsdiens gehad het. Die belangrikste volksgroepe was onder andere die volgende:

In Sentraal- en later Wes-Europa die Kelte wat met verloop van tyd verdeel het in:
– Die Goideliese Kelte, naamlik die Iere, Skotte, Manx-Eilanders en Pikte.
– Die Bretoniese Kelte, naamlik Walliesers, Cornwallisers, Bretone, Galliërs en Keltiberiërs.

In Noordwes-Europa die Germane wat met verloop van tyd verdeel het in:
– Die vroeë Noord-Germane, naamlik die Cimbri, Teutone en Heruliërs.
– Die Wes-Germane, naamlik die Angele, Jute, Friese, Saksers, Franke, Thuringiërs, Alemanne, Beiere en Longobarde.
– Die Oos-Germane, naamlik die Gote (wat weer later verdeel het in die Oos-Gote en Wes-Gote), Vandale en Boergondiërs.
– Die latere Noord-Germane, naamlik die Dene, Swede en Noorweërs. Uit die Noorweërs het weer die Yslanders en Normandiërs tot stand gekom.

In Suid-Europa die Italiërs, naamlik die Oskiërs, Umbriërs en Latyne oftewel Romeine. Uit die Romeinse dominansie van ander volkere en deur die proses van verromanisering het die Portugese, Spanjaarde, Katalane, Provensale, Franse, Italianers, Reto-Romane en Roemeniërs tot stand gekom.

Die Proto-Nordiese Proto-Indo-Europeërs het die Afrikanervolk die twee belangrikste eienskappe van sy identiteit gegee, naamlik sy ras-identiteit en sy taal-identiteit. Die Afrikanervolk is raskundig Nordies en Alpyns en sy taal Indo-Europees.

Tweede gebeure: Die rol van die Germane

Die Germane het die tweede beslissende rol in die vorming van die Afrikanervolk se identiteit gespeel.

Die verhaal van die Germane begin ongeveer 2500 v.C. na die samesmelting van die Proto-Nordiese Proto-Indo-Europeërs van die Oekraïne en Suid-Rusland met die Proto-Mediterreense Oud-Europeërs van Noord-Europa. Uit hierdie samesmelting het die Proto-Germane in Suid-Skandinawië, Denemarke en Noord-Duitsland tussen die Elbe- en Oderrivier tot stand gekom. Oos van die Oderrivier was die Baltiese- en Slawiese volksgroepe en wes van die Elberivier was die Keltiese volksgroepe gevestig.

Ongeveer 1000 v.C. het die Germane tussen die Elbe- en Oderrivier weswaarts begin beweeg en die Kelte in ‘n weswaartse rigting begin druk. Die grens tussen die Germane en die Kelte het al verder wes geskuif en teen 200 v.C. was dié grens die Rynrivier en die suidelike grens die Mainrivier. Die Germane het ook suidwaarts al met die Elberivier beweeg en teen 100 v.C. alreeds Suid-Duitsland beset. Hierdie Germane het die Wes-Germaanse volksgroepe geword.

Tussen 600 tot 300 v.C. het ‘n tweede groot migrasie vanaf Skandinawië na die Baltiese kusgebied, tussen die Oder- en die Weichselrivier, plaasgevind. Vandaar het die Germane ook oos van die Weichselrivier begin beweeg en suidwaarts al met die Weichselrivier langs tot sover suid as die Karpate in Suid-Pole. Hierdie Germane het die Oos-Germaanse volksgroepe geword.

Die Germane wat in Skandinawië agtergebly het, het die Noord-Germaanse volksgroepe geword.

Die Germane het die Afrikanervolk se twee belangrikste eienskappe van sy identiteit versterk en verder vorm gegee, naamlik sy ras-identiteit en sy taal-identiteit. Die Afrikanervolk is raskundig Nordies en Alpyns en sy taal Germaans.

Vervolgens word die oorspronklike- en finale woongebiede van die Germane in Europa aangedui. Hieruit kan mens ʼn beeld vorm van hulle migrasies asook die geweldige omvattende invloed wat hulle uitgeoefen het.

Noord-Germane

1) Die Cimbri, aanvanklik Denemarke, uiteindelik Noord-Italië (uitgesterf)
2) Die Teutone, aanvanklik Denemarke, uiteindelik Suid-Frankryk (uitgesterf)
3) Die Heruliërs, aanvanklik Suid-Denemarke, uiteindelik Suid-Swede
4) Die Dene, aanvanklik Suidoos-Swede, uiteindelik Denemarke, Danelaw (Engeland) en Engeland
5) Die Swede, aanvanklik Swede, uiteindelik Swede en Rusland (die Varangiërs)
6) Die Noorweërs, aanvanklik Noorweë, uiteindelik Noorweë, Ysland, Normandië (Frankryk), Engeland, Skotland, Ierland, Eiland Man, Shetland-Eilande, Färöer-Eilande, Orkade-Eilande en Hebride-eilande
7) Die Yslanders, aanvanklik Ysland, uiteindelik Ysland, Groenland en Noord-Amerika (uitgesterf)
8) Die Normandiërs, aanvanklik Normandië (Frankryk), uiteindelik Normandië (Frankryk), Engeland, Suid-Italië en Sicilië

Wes-Germane

1) Die Angele, aanvanklik Suid-Denemarke, uiteindelik Suid-Denemarke en Engeland
2) Die Jute, aanvanklik Noord-Denemarke, uiteindelik Noord-Denemarke en Engeland
3) Die Friese, aanvanklik Noord-Denemarke, uiteindelik Friesland (Noord-Nederland en Noordwes-Duitsland)
4) Die Saksers, aanvanklik Noord-Duitsland, uiteindelik Noord-Duitsland, Engeland, Nederland, Friesland en Suidoos-Duitsland (uitgesterf)
5) Die Franke, aanvanklik Noordwes-Duitsland, uiteindelik Noordwes-Duitsland, Nederland, België en Noord-Frankryk
6) Die Thuringiërs, aanvanklik Sentraal-Duitsland en Wes-Tsjeggië, uiteindelik Sentraal-Duitsland, Suidoos-Duitsland en Wes-Tsjeggië
7) Die Alemanne / Suevi, aanvanklik Noordoos-Duitsland, uiteindelik Suidwes-Duitsland, Elsas in Oos-Frankryk, Switserland, Wes-Oostenryk en Noordwes-Spanje
8) Die Beiere, aanvanklik Boheme, Tsjeggië, uiteindelik Suidoos-Duitsland en Oos-Oostenryk
9) Die Longobarde, aanvanklik Skane, Suid-Swede, uiteindelik Noord-Italië, dele van Sentraal-Italië en Suid-Italië

Oos-Germane

1) Die Oos-Gote, aanvanklik Gotland, Swede, uiteindelik Italië (uitgesterf)
2) Die Wes-Gote, aanvanklik Gotland, Swede, uiteindelik Spanje (uitgesterf)
3) Die Vandale, aanvanklik Noord-Denemarke, uiteindelik Noord-Afrika (uitgesterf)
4) Die Boergondiërs, aanvanklik Suid-Noorweë, uiteindelik Suidoos-Frankryk

Vervolgens word aangedui watter Germaanse volksgroepe uiteindelik watter moderne Europese volkere geword het. (Die invloed van ander Indo-Europese volksgroepe word met ʼn * aangedui).

1) Die Germaanse volksgroep die Dene, die moderne 21ste eeuse volk die Dene
2) Die Germaanse volksgroep die Swede, die moderne 21ste eeuse volk die Swede
3) Die Germaanse volksgroep die Swede (en Oos-Europese *Slawiërs), die moderne 21ste eeuse volk die Russe
4) Die Germaanse volksgroep die Noorweërs, die moderne 21ste eeuse volk die Noorweërs, die Yslanders en die Groenlanders

5) Die Germaanse volksgroepe die Franke, Alemanne, Normandiërs en Boergondiërs (en *Keltiese Galliërs, *Keltiese Bretone en *Romeine), die moderne 21ste eeuse volkere die Franse en Wallone
6) Die Germaanse volksgroepe die Angele, Jute en Saksers (en Dene en Normandiërs), die moderne 21ste eeuse volkere die Engelse, Engelse Kanadese, Australiërs en Nieu-Seelanders
7) Die Germaanse volksgroepe die Angele, Jute, Saksers (en Dene en Normandiërs) (en * Keltiese Iere en *Oos-Europese Slawiërs), die moderne 21ste eeuse volk die Amerikaners
8) Die Germaanse volksgroep die Friese, die moderne 21ste eeuse volk die Friese
9) Die Germaanse volksgroepe die Friese, Saksers en Franke, die moderne 21ste eeuse volkere die Nederlanders, Vlaminge en Afrikaners
10) Die Germaanse volksgroepe die Saksers, Franke, Thuringiërs, Alemanne en Beiere, die moderne 21ste eeuse volkere die Noord-Duitsers, Suid-Duitsers, Oostenrykers en Switsers

11) Die Germaanse volksgroep die Longobarde en Oos-Gote (en *Romeine), die moderne 21ste eeuse volk die Italianers
12) Die Germaanse volksgroep die Wes-Gote en Alemanne / Suevi (en *Romeine), die moderne 21ste eeuse volk die Spanjaarde en Portugese

Derde gebeure: Die rol van die Saksers en Franke

Die Saksers en Franke het die derde beslissende rol in die vorming van die Afrikanervolk se identiteit gespeel.

Die Saksers het uit die vroeëre Germaanse volkstamme, die Chauken, Cherusci, Chatti en Chattuarii tot stand gekom. Hulle het aanvanklik in die gebied tussen die Eems- en Elberivier, in Noord-Duitsland, gewoon. Vandaar het hulle wes- en suidweswaarts begin migreer. Die Saksers wat weswaarts migreer het, het saam met die Angele en Jute Brittanje binnegeval en oorgeneem. Die Saksers wat suidweswaarts migreer het, het weer die groter gebied tussen die Ryn- en Elberivier in Noord-Duitsland beset.

Die Franke se hartland is Frankonië, die gebied tussen die Ryn- en Weserrivier in Nederland en Noordwes-Duitsland. Hierdie volksgroep het geleidelik tot stand gekom deurdat verskeie ouer Germaanse volkstamme soos die Salii, Ripuarii, Bructeri, Ampsivarii, Chamavi, Chatti, Chattuarii, Tubanti, Ubii, Sugambri en ander groepe verenig het. Die Franke het geleidelik vanuit hulle hartland suid- en ooswaarts begin migreer. Die Salii het in die middel van die vierde eeu in die gebied tussen die Schelde- en die Maasrivier, in Suid-Nederland en Noord-België begin woon. Die Ripuarii het in die Rynland in die omgewing van Keulen agtergebly.

Na die “Groot Volksverhuising” in 374 n.C. het die Franke en Saksers Noordwes-Europa as volg gedomineer:
– Die Franke vir Noord-Frankryk, Sentraal-Duitsland, België en ʼn deel van Nederland.
– Die Saksers vir Noord-Duitsland, Engeland en ʼn deel van Nederland.

Vanweë romanisering van die vyfde tot die sewende eeu het die Frankiese invloed in die Walloonse gebied van België en die grootste deel van Noord-Frankryk egter verlore geraak.

Deur die Duitse verowering van Slawiese gebiede na die ooste vanaf die middel van die tiende eeu het die Saksiese invloedsgebied tot by Oos-Pruise uitgebrei. In die twintigste eeu het hierdie Saksiese invloed egter weer verlore geraak omdat die Russe die Duitsers aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog uit Oos-Duitsland verdryf het, waarna die gebied by Pole ingelyf is.

Die hedendaagse Frankiese en Saksiese invloedsgebied in kontinentale Europa behels gevolglik die Dietse gebiede, te wete Frans-Vlaandere in Noord-Frankryk, Vlaandere in België, Nederland en Noord-Duitsland. Al hierdie gebiede se taal en kultuur is dan ook ten nouste verwant aan die taal en kultuur van die Afrikanervolk.

Die Franke en Saksers het die Afrikanervolk se twee belangrikste eienskappe van sy identiteit versterk en verder vorm gegee, naamlik sy ras-identiteit en sy taal-identiteit. Die Afrikanervolk is raskundig Nordies en Alpyns en sy taal basies ‘n vermenging van Frankies en Saksies.

ʼn Baie groot persentasie Afrikaanse families is van Frankiese en Saksiese oorsprong. Slegs ʼn klein persentasie van ons volk se voorouers is uit Suid-Duitsland, Suid-Frankryk of selfs uit die res van Europa afkomstig. Vanweë sy Frankies-Saksiese herkoms is die Afrikanervolk, in teenstelling met populêre opvattings, dus betreklik homogeen.

Slot

Die Europese kolonisering van die Nuwe Wêreld in die 16de en 17de eeue, meer spesifiek die Nederlandse besetting van die Kaap, kan as ‘n vierde belangrike gebeure in die vorming van die Afrikanervolk se identiteit aangedui word, maar omdat die geskiedenis betreklik bekend is, word dit nie hier aangedui nie.

%d bloggers like this:
Skip to toolbar